Opsomming van Aanbevelings vir Suid-Afrika deur die Verenigde Nasies se Komitee oor Ekonomiese, Maatskaplike en Kulturele Regte

Die Internasionale Verbond oor Ekonomiese, Maatskaplike en Kulturele Regte (die Verbond) is ’n internasionale menseregteverdrag van die Verenigde Nasies (VN). Dit is op 10 Desember 1966 aanvaar en het op 3 Januarie 1976 van krag geword. Die Verbond beskerm ’n wye reeks ekonomiese, maatskaplike en kulturele regte (sosioekonomiese regte). Saam met die Internasionale Verbond oor Burgerlike en Politieke Regte (ICCPR), wat terselfdertyd aanvaar is, vorm die Verbond die hoeksteen van internasionale wetgewing oor menseregte. Dit is reeds deur 169 lande regoor die wêreld onderskryf en bekragtig. Alle Afrikalande, met die uitsondering van Botswana, Mosambiek en Suid-Soedan, het die Verbond bekragtig en is dus tot die handhawing daarvan verbind. Suid-Afrika het die Verbond op 12 Januarie 2015 bekragtig.